Baie geluk, Facebook

Ek lees gister op
http://praag.co.za dat Facebook aangekondig het dat hy nou sowat 500 miljoen gebruikers het. Dis voorwaar ‘n mylpaal vir hierdie sosiale netwerk. Sowat 1 uit 14 mense wereldwyd het nou ‘n Facebook profiel. Dit maak Facebook die grootste en kragtigste sosiale netwerk.

Advertisements

Miniblogging

Die blogs vs twitter debat kom al ‘n paar jaar saam met
ons. Daar is wel ook bloggers wat Twitter aanvullend tot hul
blogs gebruik.
Ek het nog altyd gewonder of daar nie dalk iets tussen-in
is wat ‘n soort miniblogging platform bied vir openbare blogs
nie. Daar is wel sosiale netwerke soos Jamble en
blueworld wat sulke moontlikhede bied, maar jy moet lid
van so ‘n netwerk wees om ‘n spesifieke persoon se blog
te kan lees. My groot probleem met iets soos Twitter is dat
jy slegs 140 karakters het om jouself in uit te druk. Ek is meer op soek na iets wat jou bietjie meer beweegruimte
gee maar terselfdetyd so gebou is dat jy nie ‘n lang
inskrywing op jou blog hoef te plaas nie. Jy sê net wat
nodig is. Verder moet dit ook moontlik wees om jou miniblog
maklik via jou selfoon by te hou net soos met Twitter.
Weet iemand dalk van ‘n paar blink idees?

Facebook lite opgeskort

Ek was ‘n gereelde gebruiker van Facebook se meer eenvoudige webwerf Facebook lite. Dis ‘n lekker vinnige webwerf en werk lekker saam met ouer weblesers soos Internet Explorer 6. Daarom was dit vir my ‘n skok toe ek verneem dat Facebook hierdie diens opgeskort het. In hulle amptelike reaksie sê hulle wel dat hulle baie uit hierdie oefening geleer het en hierdie kennis gaan gebruik om hulle standaard webwerf te verbeter. Intussen het ek nog ‘n probleem met Facebook. Ek kan nie die standaard blad op my rekenaar gebruik nie en moet nou maar Facebook mobile op my selfoon gebruik.
Ek glo beslis dat diensverskaffers van sosiale media en kommunikasiedienste soos gratis e-posdienste saam met hulle standaard webwerwe ook ‘n ligter weergawe van hulle webwerwe moet hê vir gebruikers wat ouer weblesers gebruik sowel as diegene wat sukkel met swak internetspoed. Baie dankie aan diegene wat dit reeds doen soos Google met ‘n basiese html weergawe vir hulle gmail diens, Yahoo met ‘n ygo weergawe van hulle blad en WordPress.com met hulle wordpress.com gadget waar jy inskrywings kan plaa, skakels op jou blogroll kan sit en jou statistieke van jou blog kan besigtig vir vandag en gister. Ander diensverskaffers kan beslis by julle kom leer.

Internet neem Afrikaans die toekoms in

Tydens ‘n werkswinkel van die Afrikaner Burgerlike Netwerk het Jaco Kleinhans, kommunikasiebestuurder van Solidariteit gesê as Afrikaanse organisasies in die toekoms nog wil voortbestaan sal hulle nou al reeds daaraan moet dink daaraan om op sosiale netwerke soos Facebook, Twitter en Flickr te wees sowel as op die breër internet.
Ongeveer 10% van Suid-Afrikaners het toegang tot die internet. Volgens navorsing deur Solidariteit het sowat 40% van blankes internet by die huis en nog meer het internettoegang by die werk.
Kleinhans het gesê ons het nog glad nie die goedkoop hoëspoed internet in Suid-Afrika soos wat gebruikers in oorsese lande alreeds geniet nie, maar Afrikaanse organisasies moet nou alreeds begin regmaak vir die dag as ons wel sulke internet het. Afrikaners se huidige vlak van internetgebruik moet ook glad nie onderskat word nie. Afrikaans staan alreeds sterk op Facebook.
Ek sou graag my eie stuiwer in die armbeurs wil gooi deur te sê dat dit nie net die organisasies nie, maar ook die gewone man op straat wat kan help om Afrikaans op die internet lewendig te hou. Ons as Afrikaanse webjoernaalskrywers moet nooit die belangrikheid van ons werk onderskat nie. Dieselfde geld vir diegene van ons wat Facebook, Twitter en ander media gebruik. Daarom, aan al my medebloggers, hou aan met die goeie werk wat julle doen en help sodoende om Afrikaans die toekoms in te neem.

Sosiale netwerke kan gedagvaar word oor skadelike inhoud

Ek lees vanoggend ‘n artikel in die Beeld waar regskenners sê dat sosiale netwerke soos Facebook wel gedagvaar kan word oor skadelike inhoud wat op hulle webwerwe gepubliseer word. Dit volg na die storm wat veroorsaak is deur ‘n uiters haatlike inskrywing op ‘n aanhangersblad ter ere van Julius Malema, leier van die ANC se Jeugliga, op Facebook. Hierdie aanhangersblad is intussen gelukkig verwyder.
Hierdie uitspraak van die regskenners laat my nogal wonder oor ‘n paar dinge. Dit is alombekend dat ‘n sosiale netwerk soos Facebook alreeds meer as 250 miljoen gebruikers het. Alhoewel Twitter nie hulle gebruikersgetalle graag bekend maak nie, sou dit nie vergesog wees om te beweer dat hulle ook tussen 100 en 200 gebruikers het. Hoe op aarde gaan hierdie netwerke in staat wees om beheer uit te oefen oor so baie gebruikers? Hoe gaan hulle sulke skadelike inhoud wat op hulle netwerke verskyn betyds kan onderskep voordat dit versprei en skade aanrig?
Dit is ook alombekend dat meeste van hierdie netwerke gebruik word deur mense van reg oor die wêreld. Indien daar wel ‘n hofsaak teen die sosiale netwerk aanhangig gemaak word, in watter land moet jy dit doen? In jou eie land of in die land waar die sosiale netwerk sy hoofsetel het? As daar regskenners tussen my medebloggers is wat hiermee kan help sal dit verwelkom word.
Nog ‘n vraag wat by my ontstaan is of maatskappye wat webjoernale huisves soos Google met hulle Blogger diens of Automatic wat WordPress besit ook onder dieselfde regsbeginsel gedagvaar kan word indien daar skadelike inhoud op hulle netwerke gepubliseer word? Albei hierdie diensverskaffers het wel stelsels in plek waar jy ‘n webjoernaal kan rapporteer wat die diensvoorwaardes van die diensverskaffer oortree.
Indien dit wel sou gebeur dat sosiale netwerke en ander diensverskaffers van sosiale media wel in die toekoms strenger maatreëls instel om inhoud op hulle netwerke te reguleer sal dit ‘n hartseer dag wees en sal dit vryheid van spraak ernstig aantas. Dit sal dan ‘n klassieke geval wees van ‘n klein groepie oortreders wat die groter groep wetsgehoorsame burgers se pret bederf. Kom ons hoop maar daardie dag is nog ver in die toekoms.