Gaan 2018 ‘n klipkoujaar wees?

Dis die groot vraag wat baie van ons onsself afvra aan die begin van ‘n baie woelige jaar. Die tafel is reeds gedek vir groot uitdagings wat in groot moeilikheid kan omsit as dit nie effektief bestuur word nie.

Op 29 Desember 2017 het die stryd om Afrikaans op universiteite nog ‘n terugslag beleef toe die grondwethof beslis het dat die Universiteit van die Vrystaat wel reg was in hulle besluit om Afrikaans as onderrigtaal af te skaf en slegs lesings in Engels aan te bied behalwe in enkele vakke. Ernst Roets van Afriforum wys in ‘n puik artikel in Maroela media daarop dat hierdie beslissing op baie twyfelagtige argumente gegrond is.
https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/kovsies-afrikaans-en-die-konstitusionele-hof-se-politieke-onderrok/
Ongelukkig is die grondwethof die hoogste hof van appél in Suid-Afrika en kan daar nie verder op regsgronde appél aangeteken word teen hierdie besluit nie.
Daar sal dus moeite gedoen moet word om vir ons Afrikaanse studente ‘n akademiese tuiste te skep waar hulle in hulle eie moedertaal gevorderde beroepsgerigte vakonderrig kan ontvang. Solidariteit se Akademia is ‘n goeie begin. Hulle vakkeuses is egter nog beperk en daar sal dringend nog meer akademici gewerf moet word om meer vakrigtings soos mediese wetenskap, ingenieurswese ensovoorts daar te kan doseer. Verder moet die Akademia konsep ook na ander groot universiteitsdorpe uitgebrei word.

Die waterkrisis in Kaapstad sal na alle waarskynlikheid nog vererger. Die gevreesde dag 0, wanneer Kaapstad se reservoirs en damme heeltemal leeg kan loop kom al hoe nader. Daar was wel goeie nuus dat ondergrondse waterbronne meer water kan lewer as wat aanvanklik geskat is, maar dan sal die stad Kaapstad hierdie waterbronne oordeelkundig moet bestuur, want as dit uitgeput is, sit hulle almal in tamatiestraat. Daar kan maar net gehoop en bid word dat hierdie winter dalk beter reënval kan oplewer. Dit sal egter baie moet reën om daadwerklik ‘n einde aan die waterkrisis te maak.

Tydens laasjaar se nasionale kongres van die ANC in Johannesburg is Cyril Ramaphosa as die party se nuwe leier aangewys. Jacob Zuma is egter nog steeds staatsprisident. Dit skep uit die aard van die saak twee sentra van mag en soos wat ons destyds met die magstweespalt tussen Thabo Mbeki en Jacob Zuma gesien het, hou so ‘n verdeelde opset nie lank in die Suid-AFrikaanse politeik nie. Verder is daar ook groot druk op Zuma om as staatsprisident te bedank na aanleiding van ernstige bewerings van korrupsie en selfs staatskaping wat oor hom en sy kornuite se koppe hang. As hy eers uit die regeringstoel is, verloor hy sy prisidensiële imuniteit teen vervolging en kan hy in ‘n geregshof verhoor word. Zuma besef dit maar al te goed en daarom is hy nie te gewillig om die tuig neer te lê nie. Daar word verwag dat hy so ver moontlik aan die mag gaan vasklou en ‘n groot doring in Ramaphosa se vlees gaan wees. Intussen het hy wel op Dinsdag, 9 Januarie 2018 ‘n kommissie onder leiding van regter Raymond Zondo aangestel om staatskaping te ondersoek, maar baie mense verwag nie te veel van hierdie ondersoek nie en verwag dat Zuma of van die ander betrokkenes dalk vele geregtelike opstruksies in die pad van die ondersoek kan plaas of dat die ondersoek se mandaat so groot kan wees dat hulle nie effektief op die staatskaping van die Zuma-familie en die Gupta-familie kan fokus nie.

Op Saterdag, 16 Desember 2017 het prisident Jacob Zuma ‘n opslagbal na die moontlike nuwe administrasie van Cyril Ramaphosa geboul met sy skielike aankondiging dat gratis universiteitsonderrig aan alle arm en werkersklas studente beskikbaar gestel gaan word vanaf 2018. Die Ekonomiese Vryheidsvegters het op hulle beurt alle matrikulante aangehits om by universiteite op te daag en te registreer en op die gratis onderrig aan te dring.
Die groot probleem hiermee is die feit dat Suid-Afrika nie naastenby genoeg geld het om so ‘n onderneming te befonds nie. Die regering het ook aangedui dat hulle nie die begroting gaan verander om die gratis studies te befonds nie. Die groot vraag is egter waarvandaan die fondse verhaal gaan word. Baie kenners vrees dat belastings dalk drasties verhoog sal moet word tydens Februarie se begrotingsrede om wel die nodige finansies te bekom vir so ‘n grootse onderneming.

Die vraagstuk oor grondonteiening sonder vergoeding word ook reeds al meer op die spits gedryf. Selfs Cyril Ramaphosa het ook sy steun daarvoor uitgespreek, wel met die voorbehoud dat dit nie ekonomiese groei in die land mag ontwrig nie, maar dit klink ook maar na ‘n fopspeenbelofte omdat enige eiendom wat sonder vergoeding deur die staat geneem word, wel ‘n ekonomiese impak op die land sal hê en veral vir die boere en hulle gesinne sowel as die plaaswerkers en hulle gesinne wat direk by die boerdery gebaat het. As deselfde proses homself oor die land heen herhaal sal dit ongetwyfeld ‘n ernstige impak hê op die ekonomie sowel as voedselsekerheid, net soos in Zimbabwe.

Baie sterkte aan al my lesers en volksgenote wat saam hierdie uitdagings moet trotseer. Mag julle almal gespaar bly en heelhuids aan die anderkant uitkom.
Sterkte aan julle almal vir ‘n baie interessante nuwe jaar.

Advertisements

Nasionale Vonkfiksiedag

Die bekende Afrikaanse skrywersplatvorm SA vryskutskrywer het ook vandag deelgeneem aan die eerste Nasionale Vonkfiksiedag wat deur skrywersverenigings in veral die Verenigde Koninkryk gereël is. Hierdie gebeurtenis het vandag, 16 Mei, plaasgevind.

Hulle het ook ‘n uitdaging aan al hulle Facebook intekenaars gestel om ‘n vonkverhaaltjie van honderd woorde of minder te skryf wat die bestuuderes, Leony Benghiat, dan op die organisasie se Facebook aanhangersblad geplaas het.

Daar het verskeie interessante kortverhaaltjies so ver op die blad verskyn. ek het self ook die uitdaging aanvaar. Hier is my nederige poging.

Coup De Gras

Deur: Johan Pieterse

Dit was veron derstel om ‘n vrolike dag te wees toe die kinders en onderwysers van Blomberg Hërskool op hul laaste eksamendag skool toe kom. Nog net enkele klasse skryf nog en meeste onnies doen al die laaste nasienwerk of stel al hulle puntekaarte op vir die puntebespreking.

Die opgewondenheid word egter gedemp toe almal die voertuie van die departementele amptenare in die skool se parkeerterrein sien. Die hoof staan met ‘n groepie amptenare en gesels. Almal lyk somber, asof hul die draers van slegte nuus is.

die nuus tref almal soos ‘n vuishou – weens geldelike tekorte word eie skool gesluit.

My hartlike dank hiermee aan SA Vryskutskrywer wat dit vir sy lesers moontlik gemaak het om blootstelling te kry aan hierdie nuwe opwindende genre van fiksie wat perfek inpas by ons gejaagde lewenstyl van vandag.

Besoek gerus hulle webblad by http://www.savryskutskrywer.co.za

Jan se twak

Ek waardeer dit altyd as daar ‘n goeie storieverteller is wat sy stories met andere kan deel op sy blog. Hier is nog so ‘n webjoernaal: http://jantwak.wordpress.com/
‘n goeie storieverteller is nie net iemand wat goeie fiksieverhale kan uitdink en weergee nie, maar ook iemand wat gewone alledaagse gebeurtenisse in ‘n storie kan omskep. Jan Twak is een van hierdie storievertellers.
Heelparty van hierdie skrywers begin goed, maar hou dan net ewe skielik op met skryf. Jan, doen voort met jou goeie werk.
Gaan loer ook in by die volgende skakel om meer te lees oor
storieblogs wat ek al voorheen gepromofeer het.
https://vuurslag.wordpress.com/tag/stories/

Wat hou 2011 in vir die Afrikaanse blogs?

Soos wat ek weer vanaand op die Afrikaanse WordPress blogs rondswerf is dit vir my weer verblydend om te sien dat die blogs weer nuwe lewe kry met nuwe toetreders sowel as ‘n paar van die ou gunstelinge wat meer aktief is op hulle webjoernale.

Ek het al in 2009 begin blog en dit was voorwaar ‘n interessante jaar. Ongelukkig was daar ook heelwat probleme daardie jaar met spotters en trolle wat hullle rondtes hier kom doen het en baie mense se pret bederf het. Ek het in daardie tyd al gesê dat die Afrikaanse webjoernale die potensiaal het om ons lesers sowel as ons bloggers op te voed en te vermaak. Juis daarom moet ons ons nie met sulke kleinlikhede besig hou nie. Ongelukkig het hierdie faktore sy merk op die blogs gelaat toe ‘n hele paar van ons geliefde skrywers besluit het om eerder blogland te verlaat.
Verlede jaar het op ‘n positiewe noot begin toe dit gelyk het asof die gemeenskap van Afrikaanse WordPress bloggers gaan herstel na die skandes en skades van 2009. Ongelukkig het dit later gevoel asof daar ‘n soort doodsheid op die blogs ingetree het. Daar was nog steeds interessante artikels wat verskyn het, maar dis asof daar nie dieselfde energie was soos wat daar die vorige jaar was nie. Selfs ek het my eie blog maar bietjie afgeskeep toe ek my eerste werk gekry het. Dit het my besig gehou en ek het minder tyd gehad om leeswerk te doen vir nuwe inspirasie vir my skryfwerk.
ek hoop ons kan hierdie jaar dieselfde energie behou waarmee ons begin het.
Sommer net ‘n interessante vraag: hoeveel Afrikaanse bloggers het al gaan inloer by WordPress se nuwe uitdaging vir 2011? Gaan loer in by:
http://dailypost.wordpress.com/
Daar kan jy baie hulp en inspirasie kry om jou blog aan die gang te hou. Alle onderwerpe is opsioneel en jy hoef nie daarvan gebruik te maak nie. Ek hoop wel dit kan help om ons heeljaar aan die gang te hou.
Dit was juis op bogenoemde blog waar daar ‘n interessante CNN-artikel verskyn het oor WordPress se uitdaging om elke dag of elke week ‘n inskrywing te plaas. Baie bloggers se nuwejaarsvoorneme vir vanjaar is om minder sosiale media te verbruik en eerder self meer materiaal te produseer. Dis voorwaar interessant.
Mag die nuwe jaar vir julle ‘n baie produktiewe jaar wees.

Taaldag

My doel met hierdie inskrywing is nie om ‘n lang geskiedenisles te gee oor die ontstaan en bevordering van Afrikaans nie, maar meer om my dank te betuig aan almal wat dit vir ons moontlik gemaak het om vrylik in Afrikaans te kan skryf en praat.
Baie dankie aan die Genootskap vir regte Afrikaners wat dit vir ons moontlik gemaak het om in te sien dat Afrikaans ook ‘n volwaardige skryftaal en letterkundige medium kan wees. Baie dankie aan die digters van die era na die Tweede Vryheidsoorlog wat ons gewys het dat Afrikaans ook ‘n taal is waarin ons vrylik kan dig. Baie dankie aan diegene wat Afrikaanse koerante tot stand gebring het en vir ons gewys het dat Afrikaans ook ‘n volwaardige nuustaal kan wees waarin ons ons ook op politieke gebied kon uitdruk en ons vryheidsideaal verder kon bevorder. Dankie aan skrywers soos CJ Langenhoven wat topgehalte boeke gepubliseer het en ook baie gedoen het om mee te help dat die destydse regering Afrikaans in 1925 as amptelike landstaal erken het. Baie dankie aan diegene wat agter die skerms gewerk het om die Bybel in Afrikaans te kon vertaal. Hierdie vertaling het in 1933 verskyn. Baie dankie aan ons akademici wat agter die skerms gewerk het om vir ons woordeboeke saam te stel en so ons Afrikaanse woordeskat uit te brei. Baie dankie ook aan diegene wat daartoe bygedra het dat Afrikaans ook ‘n volwaardige wetenskaplike taal geword het wat ons op universiteite kon gebruik om ons studente voor te berei vir beroepe soos dokters, wetenskaplike navorsers en tegnici.
Laaste maar nie die minste nie wil ek my hartlike dank betuig aan diegene wat in hierdie dae wat die toekoms van Afrikaans bedreig word steeds voortgaan om vir ons op te staan.
Selfs as jy ‘n gewone eenvoudige webjoernaalskrywer is moet jy ook nie jou rol onderskat om Afrikaans te bevorder en lewendig te hou nie. Baie dankie aan jou ook.
Mag ons, ons kinders en kleinkinders nog lank ons taal handhaaf en uitbou.