Die grense van satire

Januarie 13, 2015

Op Woensdag, 7 Januarie 2015 het ‘n nare tragedie homself afgespeel in Parys, Frankryk toe twaalf mense deur terroriste doodgeskiet is wat Islam as die hoofmotief vir hul aanval gebruik het. Die aanval het plaasgevind by die kantore van Charlie Hebdo, ‘n weeklikse satiriese koerant. Tien van die twaalf oorledenes was werknemers van die koerant, onder andere die redakteur, bekende spotprenttekenaars en joernaliste. Die ander twee was polisiemanne wat polisiebeskerming moes verleen aan die redakteur en sy personeel, dit terwyl hulle nie na behore bewapen was vir so ‘n taak nie. Die ters het hulle sonder seremonie uitgehaal en toe die koerant se kantore bestorm terwyl die weeklikse redaksionele vergadering aan die gang was. Hierdie voorval was weer ‘n tragiese herinnering dat ons voorwaar in ‘n gevaarlike era van internasionale Islamitiese terreur lewe, veral na die aanvalle op die Wêreld Handelsentrum in New York.
Charlie Hebdo was ‘n liberaalgesinde satiriese koerant wat met alle aspekte van die Franse samelewing die spot gedryf het maar wat ook op ‘n gewetenlose manier die spot gedryf het met godsdiens en wat selfs nie eers die heiliges en gode gespaar het nie.
In 2006 was hulle ook midde in die storm wat losgebars het nadat ‘n Deense koerant, Jyllands-Posten, ‘n reeks van twaalf spotprente gepubliseer het wat met die profeet Mohammed, die stigter van Islam die spot gedryf het. Hierdie spotprente het erge woede in die Arabiese gemeenskap en in midde-oosterse lande veroorsaak en daar was betogings op straat en ook boikotte teen Deense voedselprodukte, veral suiwel. Charlie Hebdo het te midde van hierdie ongelukkigheid voortgegaan om die spotprente in hulle eie koerant te publiseer wat op sy beurt weer die Moslems in Frankryk hewig ontstel het.
In 2011 is hulle kantore met petrolbomme aan die brand gesteek nadat hulle steeds voortgegaan het om anti-islamitiese satiriese materiaal te publiseer.
Daar was ook verskeie doodsdreigemente teen die redakteur, Stephane Charbonnier en sy personeel. Die Franse polisie het aan hulle polisiebeskerming verleen maar soos wat ons vandag weet was dit nie voldoende om ‘n tragedie soos hierdie te vermy nie. Ten spyte van al die dreigemente en waarskuwings het Stephane Charbonnier volgehou dat hy eerder staande sal sterf as wat hy lewend sal gaan lê en homself op vryheid van spraak en uitdrukking beroep.
Die groot vraag kan egter gevra word waar die grense is wat ons moet trek as dit by spotprente en ander satiriese materiaal soos artikels, skilderye, musiek, verhale en ander kuns kom. Vryheid van spraak is nie ‘n onaantasbare reg nie en so ‘n vryheid moet gepaard gaan met die grootste verantwoordelikheid. Waarsku die Bybel ons nie juis in Jakobus 3 oor die gevare van ‘n onbeheersde tong nie. Dit word met ‘n dolk vergelyk. Verder waarsku Salomo ons ook in Spreuke dat ‘n man wat spot ‘n hele stad tot oproer kan bring.
Charlie Hebdo het nie net met moslems gespot nie, maar het ook met Christene, Jode en ander godsdienste gespot.
Baie mense wat vryheid van spraak en uitdrukking baie hoog ag kan dalk met my verskil maar hier is ‘n paar belangrike rigsnoere om in gedagte te hou om onetiese satire te vermy.
1. Moet nooit maar nooit met godsdiens die spot dryf nie. Vir baie mense is dit ‘n belangrike motivering om as produktiewe burgers in ‘n samelewing te leef en nie te verval in die daaglikse versoekings wat oor ons pad mag kom en wat dreig om ons in ‘n put van sonde, barbarisme en diep ongelukkigheid af te trek. As aan hierdie fondasie gepeuter word, sal dit noodwendig tot woede en ongelukkigheid lei. Nie alle mense hanteer sulke vervolging ewe goed nie. Christene kon die moderne aanslae teen hulle geloof beter hanteer omdat die Bybel ‘n duideliduidelike voorskrifte neerlê oor hoe ons sulke vervolgers in liefde moet hanteer. Alle godsdienste het nie sulke sterk ingeboude teologie daarvoor nie en mense kan maklik tot geweld gedwing word as hulle sou voel dat hulle geestelik aangeval word. Die risiko word verhoog wanneer hierdie soort propaganda vir dekades lank genadeloos aanhou soos wat by Charlie Hebdo gebeur het.

2. Moet nooit die spot dryf met mense wat deur ‘n groot ramp of verdrukking gegaan het of nog steeds aan sulke omstandighede onderworpe is nie. Dis heeltemal oneties om die spot te dryf met die Boerevrouens en kinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog in
konsentrasiekampe aangehou het en groot lewensverliese gely het. Aan Britse kant is daar dikwels beweer dat hulle dit verdien het omdat hulle glo vuil en agterlik was en die spot is so met hulle gedryf. Dit sou ook uiters oneties wees om enige satiriese werke te publiseer wat Joodse aangehoudenes in Nazi-konsentrasiekampe sou benadeel. Dieselfde geld vir miljoene slagoffers wat gelei het onder kommunisme in die voormalige Sowjet-unie, Rooi Sjina, Kuba, Latyns-Amerika en
Midde-Afrika. Dis ook uiters oneties om Afrikaners te satiriseer wat lei onder die Anc-regering se verdrukking en dinge soos rasstellende aksie, huis- en plaasterreur en die stelselmatige uitfasering van Afrikaans in ons staatsinstellings en universiteite.

3. Dit is oneties om diegene met gestremdhede te satiriseer. Meeste mense sal hiermee saamstem. Uit die aard van die saak kan sulke mense dit nie verhelp dat hulle so gebore is nie en oor die algemeen lewer baie gestremdes uitstaande prestasies in hul sportloopbane en werksomgewing.
In Februarie 2000 het daar ‘n advertensie vir die kitskosgroep Nandos op televisie verskyn wat ‘n siggestremde frou uitbeeld met haar gidshond wat ‘n wegneemete daar koop. Terwyl sy wegstap raak die gidshond so lus vir die kos dat hy haar in ‘n paal laat vasllp sodat sy moet val en haar kospakkie moet verloor sodat hy dit kan kry. Gidshondeienaars en ander gesiggestremdes het hewig protes aangeteken teen hierdie soort satire omdat dit ‘n slegte beeld van gidshonde uitstuur in ‘n land waar daar steeds groot onkunde heers rondom gidshonde en die regte van gidshondeienaars wat openbare fasiliteite moet gebruik. Die gesagsliggaam vir reklamestandaarde het teen Nandos beslis en die gidshondeienaar en gesiggestremdes die voordeel van die twyfel gegee.

4. Dis uiters oneties om met bejaardes die spot te dryf in enige tipe satiriese media. Meeste bejaardes het in hulle jonger lewe ‘n bydrae gelewer om ons samelewing op te bou tot wat dit vandag is. Ons almal is aan die einde van die dag ewe sterflik. Nie een van ons jonger garde weet of ons eendag tot ‘n rype ouderdom sal lewe nie en of ons dalk heelwat jonger al moet vertrek. Niemand kan die siektes, kwale en skete verhelp wat dikwels met die ouderdom saamkom nie. Laat ons dus aan ons bejaardes die nodige liefde en respek betoon wat hulle verdien.

5. Dit is uiters oneties om in enige satire jou slagoffer se seksualiteit te beledig. Dit gebeur soms dat ‘n satirikus laag sal daal deur sy slagoffer van swak seksuele prestasie te beskuldig of sonder enige bewyse te beweer dat die slagoffer ‘n geslagsiekte onder lede het. Laasgenoemde het ons wel gesien toe die poppekunstenaar Conrad Koch en sy pop Chester Missing vir Steve Hofmeyr beledig het. Bly weg van sulke satire af.

Hierdie aanbevelings kan dalk hoogs omstrede wees, maar ek hoop dat dit wel sommige mense wat wel satire as ‘n kunsform of medium beoefen sal help om dit op ‘n etiese en behoorlike manier te doen. Lesers is welkom om nog moontlike aanbevelings by hierdie lysie te voeg.

]status publish]

%d bloggers like this: