Gestremdes En Joernalistiek

Januarie 21, 2012

Dit is die droom van byna alle mense met gestremdhede om eendag die ope arbeidsmark te kan betree en ook in ‘n gewone werksplek saam met gewone kolegas ‘n normale beroep te kan beoefen.
Die laaste tyd het ek self begin navorsing doen oor gestremdes in die interessante wêreld van joernalistiek. Ek is self tans besig om ‘n kursus in gemeenskapsjoernalistiek te doen en hoop om eendag vir my ‘n nuwe loopbaan daarmee te begin. Dit is vandag nie meer ongewoon vir werkende mense om weer verder te studeer waar moontlik as deel van hertoerusting, oftewel “retooling” vir ‘n nuwe beroep nie.
Tydens my vlugtige navorsing het ek afgekom op interessante inligting wat wel daarop dui dat dit wel moontlik is vir my as gestremde persoon om so ‘n loopbaan te volg met moontlike aanpassings. Ek het onder andere op ou koerantartikels in die Beeld en Burger afgekom van Bonita Blankenberg, ‘n gesiggestremde dame wat haar kursus in joernalistiek by die Kaapse Skiereiland suksesvol voltooi het. So ver ek kon vasstel werk sy nou in die kommunikasiebedryf.
Dan was daar ook na haar ‘n ander liggaamlik gestremde dame van Bonte Heuwel, Ellen Dreyer, wat ook inspirasie geput het uit Bonita se sukses en toe self ook joernalistiek as studierigting gevolg het. Ek is nuuskierig om te weet hoe die meetsnoere vir haar geval het en of daar toe ‘n werksgeleentheid vir haar oopgegaan het.
In 2004 het ‘n sakejoernalis van die Laevelder, Buks Viljoen, ‘n toekenning van Beeld gewen. Vandag werk hy as joernalis by Beeld.

Ek weet self nog nie hoe dinge vir my in die toekoms gaan verloop nie en of ek wel ook suksesvol gaan wees in my spesifieke rigting nie. Daar is heelwat uitdagings wat vir my voorlê. Ek kan wel goeie artikels skryf, maar kan as gevolg van my gesiggestremdheid nie foto’s neem nie. Ek het al ‘n paar skote met ‘n selfoonkamera probeer, natuurlik met skreeusnaakse resultate. Gemeenskapskoerante het as ‘n reël nie baie fondse tot hulle beskikking nie en moet dus noodgedwonge meerdoelige personeel aanstel, byvoorbeeld verslaggewers wat ewe bedrewe is met die pen en die kamera. Verder is vervoer ook ‘n uitdaging omdat ek nie self kan bestuur nie.

Verder is tegnologie vir ons ‘n tweesnydende swaard. Dit maak vir ons nuwe moontlikhede oop met rekenaars met sintetiese spraak en internet wat dit vir ons moontlik maak om die jongste inligting op die internet te kry sonder dat die inligtingsverskaffer of ‘n tussenganger eers vir ons die inligting moet aanpas deur dit in braille te druk of
op kasset of enige ander klankformaat op te neem. Maar soms word daar ook in die nuwe tegnologiese era van personeel verwag om meerdoelig te wees. Hulle moet byvoorbeeld artikels kan skryf, die foto’s in die artikel kan invoeg en die bladuitleg op die rekenaar doen. Juis daar kan tegnologie ons lelik pootjie en ons sonder werksgeleenthede laat.

Laat ons egter ten spyte van al hierdie bogenoemde omstandighede steeds hoopvol bly dat hierdie dalk die begin van ‘n nuwe avontuur kan wees.

%d bloggers like this: