Hoekom help die ANC vir Zanupf

Desember 11, 2011

Volgens ‘n berig wat op Nuus24 verskyn het het die ANC glo belowe om die regerende ZANUPF party van Zimbabwe te help om volgende jaar se verkiesings te wen.
Die Anc se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, het Donderdag ‘n kongres van ZANUPF toegespreek en gesê die ANC is bereid om hulle met strategiese hulp by te staan om volgende jaar se verkiesing in Zimbabwe te wen. Dis glo deel van die verantwoordelikhede wat bevrydingsbewegings teenoor mekaar moet nakom. Hy het ZANUPF aangemoedig om hulle verkiesingsmateriaal vir diE anc te stuur sodat hulle die Zanupf met hulle verkiesingsveldtog kan help.
Hierdie is mos nou ‘n uiters onverantwoordelike stap van die ANC. Onthou hulle nie hoeveel intimidasie van Opposisiekandidate en ondersteuners daar tydens vorige verkiesings plaasgevind het nie? Sommige gewone mense het selfs omgekom in strafkampe wat deur ZANUPF beheer is. Hierdie gevangenes wat in hierdie kampe gedood of beseer is is eenvoudig oorgelaat aan groepe jeugdiges bekend as “The Green Bombers” wat van wrede mishandeling gebruik gemaak het om hulle slagoffers te probeer oortuig om vir die regering te stem. Diegene wat iets gedoen het wat die regerende party se veldtog kon skade berokken is ook in hierdie kampe gestraf. Hierdie mense het bloot die waarheid uitgelek oor die intimidasie wat in die land aan die gang was.
Verder dra Suid-Afrika nou nog die gevolge van Zimbabwe se grondroofprogram wat in 2000 begin het nadat ZANUPF gevaar geloop het om teen die MDC te verloor in die verkiesing van daardie tyd. Dit het tot voedselskaarstes gelei wat ‘n vlugtelingkrisis veroorsaak het met meeste van hierdie vlugtelinge wat hiernatoe gekom het vir oorlewing. Dit het weer tot skaarste aan werk vir Suid-Afrikaners gelei en in 2008 was daar ‘n uitbarsting van xenofobiese geweld waar buitelanders deur Suid-Afrikaanse aanvallers geteiken is. Hoewel dinge op die oomblik nog rustig is, hoor mens maar gereeld van voorvalle waar xenofobiese dreigemente deur sekere elemente in gemeenskappe teen die buitelandse winkeleienaars en arbeiders in hulle midde gemaak word. Die polisie en gemeenskapsleiers moet dan ingryp om die situasie te ontlont.
Verder het die gebeure in Zimbabwe ook polarisasie in die Suid-Afrikaanse bevolking veroorsaak deurdat veral Afrikanerboere vrees dat dieselfde lot hulle kan tref. Verder het sommige politici soos Julius Malema en Gugile Nkwinti ook al onverantwoordelike uitsprake gemaak waarin gedreig was dat Suid-Afrika ook dieselfde paadjie as Zimbabwe sal loop as boere nie vrywillig van hulle grond afstand doen nie.
Teen hierdie agtergrond gesien is die ANC se steun vir ZANUPF uiters ontstellend en onverantwoordelik. Ja, hulle doen dit wel omdat ZANUPF hulle destyds gehelp het tydens die sogenaamde “struggle” maar dit het tyd geword dat die ANC hulle struggle-lojaliteit moet opweeg teen die vergrype en wandade wat die regering van Zimbabwe teen hulle eie burgers gepleeg het. Hulle moet hulself die vraag afvra of dit werklik die moeite werd is om nog voort te gaan om ZANUPF te ondersteun en of hulle nie dalk eerder die opposisie ‘n kans moet gee nie.

%d bloggers like this: