TRIPARTHEID SE VERWARRINGS

Junie 28, 2011

Ek luister nou so na uitsprake wat gemaak word by die beraad van die drieparty-alliansie, dis nou die ANC, COSATU en die SAKP. Blade Nzimandi, leier van die SAKP, het glo Julius Malema en die ANC Jeugliga se oproep vir die nasionalisering van myne as selfsugtig beskryf en dit verwerp. Hy glo nie dat hulle motiewe vir nasionalisering opreg is en die werkersklas wil bevoordeel nie, maar dat dit slegs ‘n uitkoms is vir die SEB-manne wat hulle nou in finansiële moeilikheid bevind. Maar laat ons nie nou ons hoop op die kommuniste sit om hierdie dreigende nasionalisme te keer nie. Dit was nog immers van die begin af die kommuniste se droom om ons land se myne, besighede, grond en ander bates te nasionaliseer. Vir hulle gaan dit meer oor wie dit mag doen en wie nie.
Intussen wonder COSATU weer hardop of hulle nog steeds by die ANC moet bly en of hulle moet wegbreek en hulle eie ding in die politiek moet doen. Dit is te betwyfel of soiets wel sal gebeur, veral omdat COSATU al voorheen sulke dreigemente gemaak het het as hulle voel hulle kry nie hulle sin nie. Maar as dit wel sou gebeur sit die ANC met ‘n groot probleem omdat COSATU nog altyd vir hulle die spierkrag op die grond verskaf het en vir hulle stemme onder die gewone werkersklas gewerf het.
Aan die ander kant moet ek erken ek vrees ook so ‘n skeuring omdat daar dan ‘n moontlikheid is dat die nuwe bevryde COSATU baie meer radikaal kan word en toestande vir besighede en werkgewers onmoontlik kan maak. Gister het een van COSATU se grootkoppe juis ‘n beroep op die 1.3 miljoen lede van die vakbondfederasie gedoen om oorlog teen werkgewers te verklaar en ‘n “leefbare inkomste” te eis.
Baie van my lesers sal my nou vra hoekom ek oor al hierdie dinge skryf? Ek weet nie of dit net ek is nie, maar ek ervaar al hoe meer hoe sommige mense die revolusionêre drom al hoe harder slaan in die ANC-politiek. Al hoe meer klem word gelê op die nasionalisering van myne, banke en grond, veral deur die ANC Jeugliga, blankes word as misdadigers afgemaak, die dreigement van die inligtingswet hang nog steeds soos ‘n swaard oor ons koppe alhoewel die ANC darem toegewings gemaak het. Intussen word die media nog steeds as die vyand uitgekryt deur figure binne die ANC en SAKP.
Ek vrees die dag wanneer die drukkoker wat in hierdie land opgebou het as gevolg van al hierdie onverantwoordelike uitsprake gaan ontplof.

9 Responses to “TRIPARTHEID SE VERWARRINGS”

  1. murphy Says:

    Jarrrreee gelede, toe ek ‘n eerstejaarstudent aan US was, het my PolWet-proffie ons ‘n taak laat skryf. Die onderwerp: Is die ANC ‘n kommunistiese organisasie? (Dit was 1990).

    Na deeglike bespreking en neerhalende kommentaar oor die paar studente wie se antwoord ‘Ja’ was, is ons meegedeel dat die ANC glad nie kommunisties is nie. Geen grys area nie, het die prof gesê.

    Ek sou graag vandag sy opinie wou hoor. Smaak my ons kon maar ons boude eerder met daardie takie afgevee het.

    Like

    • vuurslag Says:

      Ek stem heeltemal saam met jou Murphy. Ek is egter bevrees dat ouens soos jou proffie nie sal erken hulle was verkeerd nie. Hulle sal die ANC aanhou verdedig en ons as regses afmaak.

      Like

  2. alleman Says:

    Nee gits, Murphy, jou proffie moes nie neerhalend gewees het nie, maar hy was eintlik reg. Die ANC is ‘n ‘broad church’, waarbinne die kapitaliste tot dusver die kommuniste kon onder hou.
    SA was een van die ongelykste lande ter wereld, maar het onder ANC bewind die heel ongelykste land geword. Hierdie ongelykheid het ‘n rasseskeiding, en dis ‘n probleem wat nie gaan weggaan voor dit nie aangespreek is nie, en dis jammer dat die ANC regerings tot nou dit nie gedoen het nie, want hulle het dit basies aan die politieke hiënas soos Malema oorgelaat, wat net hulself wil verryk en die land in chaos kan dompel.

    Like

    • murphy Says:

      Ek het eintlik niks teen die feit dat hy tot die gevolgtrekking gekom het wat hy het nie, is seker maar meer meer vies oor die manier wat dit aan ons oorgedra is. Wat ironies is, as ek nou terugkyk, is dat hy ‘n groot liberalis was, wat tog sy standpunte op ‘n baie patriargale en chauvenistiese manier oorgedra het.

      My way or the highway!

      Hoe snaaks.

      (Ek moet sê, ek het ook in my taak tot die gevolgtrekking die ANC is NIE kommunisties nie, Maar tipies eerstejaar het ek nie veel verder daaroor uitgebrei nie.)

      Like


  3. As Pensie nou maar ‘n stuiwertjie mag bydrae … En dan sal ek graag wil hê slim mense moet my reg help …

    Murphy jy het sekerlik daai taak gepluk … Selfs my graad sewe seuntjie weet die ANC is nie kommunisties en dat Kommunisme ‘n spook is wat geskape is deur Jimmy om sy ‘toom bomme te toets .. Die ANC het wel twee ander vennote waarvan een van hulle wel die SAKP is en Boo sê vir al die JC volgelinge.

    Die ANC is wel ‘n Nasionaal Sosialistiese party met sy wortels diep geanker in Kapitalisme en hulle het dit wel reg gekry om die swart mense van die land se stem te wen met kanne petrol en bakkies vol tyres … maar Kommunisties … ek twyfel …

    Like

    • vuurslag Says:

      Hallo Bierpens. Glo my vry, die kommunisme is nie net geskep deur ons vorige regering as ‘n spook om ons mee bang te maak nie, maar dit was en is nog altyd ‘n gevaar wat ons westerse samelewing bedreig. Een van die hoofdokumente wat die ANC se rigting aanwys is die sogenaamde Freedom Charter wat dit duidelik stel dat die land se industrie, myne en ander bates genasionaliseer moet word om die mense van die land sogenaamd te bevoordeel. Ons weet in praktyk word die mense nie regtig baie gehelp nie. Maar hierdie dokument maak al klaar van die ANC ‘n kommunistiese organisasie. Hulle het dit wel die laaste 17 jaar reggekry om die gewone mense te fop deur voor te gee dat hulle ‘n organisasie van verskillende groepe en standpunte is, die sogenaamde Broad Church. Maar hierdie leuen kon nie onbeperk aanhou nie en die ANC het gou al hoe meer rigtingloos begin lyk. Nou begin hulle weer stadig maar seker terugkeer na hulle kommunistiese wortels onder druk van die ongeduldige massas aan wie daar belowe is en nie gegee is nie.

      Like

  4. murphy Says:

    Bierpens, jy moet onthou dit was 1990 toe ons nog almal bang was vir die rooi gevaar.

    Jy moet ook moooooooiii lees, ek het mos tot die gevogtrekking gekom die ANC is nie kommunisties nie in my takie. Hoe sou ek hom dan gepluk het?

    Hoe nou?

    Like


Comments are closed.

%d bloggers like this: