Rassespanning in SA

Maart 7, 2011

Die laaste paar weke was ‘n tyd waar spanning tussen verskillende rassegroepe in Suid-Afrika hoog geloop het. Eers het daar vrese ontstaan rondom beoogde veranderings in die wet op gelyke
indiensneming wat nasionale rassekwotas in die werkplek nou in alle provinsies wil afdwing. Solidariteit het daarop gewys dat tot 1,1 miljoen werkende Kaapse Kleurlinge in die Weskaap werkloos gelaat kan word as hierdie wetgewing deurgevoer word.
Om alles te vererger, word ‘n ou televisie-onderhoud van Jimmy Manyi, huidige regeringswoordvoerder en voorsitter van die Black Management Forum, op die lappe waarin hy beweer dat daar ‘n oorkonsentrasie van Kleurlinge in die Weskaap is en dat hulle oor die land moet versprei. Daarna het Trevor Manuel, voormalige minister van Finansies en huidige beplanningsminister in die presidensie, ook ‘n ope brief aan Manyi geskryf waarin hy uitvaar teen die rasisme van Manyi.
Bo-op dit bars daar ook ‘n storm los rondom ‘n rubriek in Sunday World deur die skryfster Nomakula Roberts waarin sy growwe aanmerkings maak teenoor Kleurlingvroue. Sy is intussen geskors, haar rubriek is gestaak en sy moes om verskoning vra. Maar die skade was reeds gedaan. Intussen het Ons vriend Julius Malema ook tot die rassestorm toegetree. Hy wil nou alle besighede wat blanke aandeelhouding het, ook nasionaliseer. Eers het hy sy aandag op die nasionalisasie van myne toegespits, maar die feit dat hy nou besighede ook wil teiken, is uiters kommerwekkend. Verder het hy ook swartmense aangemoedig om meer babas te kry omdat dit deel uitmaak van die vorige rewolusie. Al hierdie gebeure laat my baie angstig voel. Diegene wat hierdie haat aanblaas speel met vuur. eendag is eendag dat hierdie land nog gaan ontplof met al die haat, afguns en jaloesie wat oor die jare deur die Anc en hulle meelopers gesaai is. Die regering het nog ‘n kans om iets aan hierdie onhoudbare situasie te doen, maar dan moet hulle vinnig en beslis optree.

%d bloggers like this: