Die nuwe kulturele gevaar

Januarie 7, 2011

Die laaste week was daar groot ontsteltenis in die geledere van behoudende Afrikaners nadat ‘n besigheid bekend as The Zef Shop ‘n t-hemp gedruk het waarop ons groot boereleier oud-president Paul Kruger van die Zuid-Afrikaansche Republiek as ‘n fopdosser uitgebeeld word.
Ekself deel in die ontsteltenis van my volksgenote en veroordeel die aksie van die eienaars van die Zef Shop ten volle.
Hierdie verskynsel is ongelukkig deel van ‘n groter kulturele gevaar wat onlangs op die toneel verskyn het. Dis ‘n verskynsel wat in die volksmond as Zef bekendstaan.
In kort is Zef niks anders as die uitdagende promofering van losbandigheid en dekadensie nie. Die verskil tussen Zef en ander soort dekadensie is dat ander soorte dekadensie hulle praktyke onder die vredesdekmantel wil regverdig soos die hippies van die sestigerjare. Wie onthou nog die slagspreuk “Make love, not war.” Andere sukkel weer om met ‘n morele regverdiging te kom vir hulle wandade. Sommige sal op individuele vlak die moderne tydsgees as verskoning aanbied. “ons lewe in ‘n moderne eeu” en “jy is outyds”, is hulle gunsteling verweer. Zef is egter ‘n soort openbare oorlogverklaring teen die gevestigde Afrikanerkultuur wat oor ‘n kwessie van honderde jare opgebou is. Die kulturele aanvoerders van hierdie subkultuur daag hulle volgelinge tot dekadensie uit en gaan woes te kere met diegene wat nie hulle sieninge deel nie.
In hierdie week was daar ook ‘n artikel in Beeld waarin
Generaal-Majoor Gert Opperman van die Voortrekkermonument homself uitgespreek het teen die Zef-musiekgroep Die Antwoord se vertoning by die Voortrekkermonument op ounjaarsaand waar kru taal in hulle liedjies gebruik is. ‘n Mens sou egter die vraag kon vra hoekom die monument se bestuur toegelaat het dat hierdie groep daar optree? Kon hulle nie eers navorsing gedoen het om vas te stel watter soort groep hulle is nie? Hulle beweer tog dat hulle streng keuring toepas om te bepaal watter kunstenaars daar mag optree.
Verlede jaar was daar ook ‘n herrie in die koerante omdat die geliefde Afrikaanse sangeres Juanita Du Plessis nie saam met die Zef-sanger Jack Parow by ‘n groot Afrikaanse musiekkonsert wou optree nie nadat hy godslasterlike uitsprake gemaak het. Parow het woes teen Du Plessis uitgevaar op sy Twitter mikrojoernaal met kru taal en haar as veroordelend “judgementel” uitgekryt. in daardie tyd het ek Juanita se besluit ook ondersteun.
Alhoewel Zef as ‘n ondergrondse subkultuur ontstaan het onder Afrikaanssprekende woestaards is dit die laaste paar jaar tot in die kulturele hoofstroom gedruk deur kunstenaars soos Die Antwoord en Jack Parow asook die Zef webjoernaal Watkykjy. Hierdie is ‘n kulturele gevaar wat ons nie meer kan ignoreer nie. Hulle het nou amptelik oorlog teen ons verklaar met hulle Paulina Kruger t-hemde en ek wil my verstout om te sê dat ons nog nie die laaste van hulle gehoor het nie. Ons moet opstaan teen hierdie gevaar waar ook al hulle ons bedreig en ons moet kunstenaars soos Juanita Du Plessis ondersteun wat dit reeds gedoen het.
Vir verdere inligting oor die Zef subkultuur kan die volgende skakels besoek word:
http://watkykjy.co.za/
http://twitter.com/jackparow/

4 Responses to “Die nuwe kulturele gevaar”

  1. Son Says:

    G’n wonder ons land lyk soos wat hy lyk nie. Wat het van gewone ordentlikheid geword?

    Like

  2. Jan Twak Says:

    Toe ek jou eerste sin begin lees toe dog ek o hene hier’s my eerste blogfight en ek het nog skaars geland.

    Ons dink 100% dieselfde.

    Like

    • vuurslag Says:

      Hallo Jan. Hahaha nee, jy hoef nie bekommerd te wees nie. Ek is bly ons stem saam oor hierdie kwessie. Ek was gister daar by jou blog en geniet jou stories sommer baie. Doen so voort.

      Like


Comments are closed.

%d bloggers like this: