Demokrasie se voet

Augustus 10, 2010

Ek lees netnou ‘n berig in die Beeld van ‘n voorval by ‘n saamtrek in Oos-londen ter viering van die ANC-regime se vrouedag. ‘n Vroulike verteenwoordiger van COPE, oftewel Congress of the People, is deur woedende skares by die saamtrek uitgejou en verhinder om haar toespraak te lewer.
Eers het die burgermeester van Oos-Londen probeer om die skares tot orde te roep. Toe dit onsuksesvol blyk te wees, het die Ooskaapse premier probeer ingryp. Op die ou end het president Jacob Zuma ook probeer om die skares tot bedaring te bring, maar hulle het selfs nie eers na hom geluister nie. Die verteenwoordiger moes op die ou einde weer haar plek gaan inneem. Sy is wel ‘n tweede geleentheid gebied om haar toespraak te lewer, maar die skares het haar weer uitgejou en geraas dat sy nie haar toespraak kon lewer nie.
In die lig van hierdie gebeure is dit maar moeilik om te verstaan hoekom die voorstanders van die sogenaamde nuwe Suid-Afrika nog wil beweer dat ons land ‘n demokrasie is terwyl ‘n groot deel van die bevolking nie ‘n benul het van wat demokrasie regtig is nie. Verder was dit ook ‘n klad op die naam van hierdie sogenaamde vrouedag omdat ‘n vrou met soveel disrespek deur die massas behandel is.

President Jacob Zuma het wel die skares by die saamtrek berispe deur daarop te wys dat ons nie ‘n land saam kan bou as ons mekaar nie eers by geleenthede soos gister se vrouedag kan verdra nie. Ek hoop egter dat hy in die komende dae ‘n veel sterker uitspraak hieroor sal doen om die wangedrag van die ANC-ondersteuners te veroordeel. Of dit wel sal gebeur, weet ek nie.
Hierdie voorval kon nie op ‘n slegter tyd vir die ANC-regime gekom het nie. Terwyl die skares op grondvlak so onverdraagsaam teenoor opposisiepartye is, is die regering besig om aan nuwe wetgewing te werk wat mediavryheid drasties sal inkort en inligting strenger sal beskerm. Die toekoms vir die sogenaamde demokrasie in ons land lyk maar donker. Al die maskers en skyn is besig om af te kom.

Sterkte aan almal van julle wat in hierdie interessante tye moet leef.

%d bloggers like this: