Sosiale netwerke kan gedagvaar word oor skadelike inhoud

Maart 29, 2010

Ek lees vanoggend ‘n artikel in die Beeld waar regskenners sê dat sosiale netwerke soos Facebook wel gedagvaar kan word oor skadelike inhoud wat op hulle webwerwe gepubliseer word. Dit volg na die storm wat veroorsaak is deur ‘n uiters haatlike inskrywing op ‘n aanhangersblad ter ere van Julius Malema, leier van die ANC se Jeugliga, op Facebook. Hierdie aanhangersblad is intussen gelukkig verwyder.
Hierdie uitspraak van die regskenners laat my nogal wonder oor ‘n paar dinge. Dit is alombekend dat ‘n sosiale netwerk soos Facebook alreeds meer as 250 miljoen gebruikers het. Alhoewel Twitter nie hulle gebruikersgetalle graag bekend maak nie, sou dit nie vergesog wees om te beweer dat hulle ook tussen 100 en 200 gebruikers het. Hoe op aarde gaan hierdie netwerke in staat wees om beheer uit te oefen oor so baie gebruikers? Hoe gaan hulle sulke skadelike inhoud wat op hulle netwerke verskyn betyds kan onderskep voordat dit versprei en skade aanrig?
Dit is ook alombekend dat meeste van hierdie netwerke gebruik word deur mense van reg oor die wêreld. Indien daar wel ‘n hofsaak teen die sosiale netwerk aanhangig gemaak word, in watter land moet jy dit doen? In jou eie land of in die land waar die sosiale netwerk sy hoofsetel het? As daar regskenners tussen my medebloggers is wat hiermee kan help sal dit verwelkom word.
Nog ‘n vraag wat by my ontstaan is of maatskappye wat webjoernale huisves soos Google met hulle Blogger diens of Automatic wat WordPress besit ook onder dieselfde regsbeginsel gedagvaar kan word indien daar skadelike inhoud op hulle netwerke gepubliseer word? Albei hierdie diensverskaffers het wel stelsels in plek waar jy ‘n webjoernaal kan rapporteer wat die diensvoorwaardes van die diensverskaffer oortree.
Indien dit wel sou gebeur dat sosiale netwerke en ander diensverskaffers van sosiale media wel in die toekoms strenger maatreëls instel om inhoud op hulle netwerke te reguleer sal dit ‘n hartseer dag wees en sal dit vryheid van spraak ernstig aantas. Dit sal dan ‘n klassieke geval wees van ‘n klein groepie oortreders wat die groter groep wetsgehoorsame burgers se pret bederf. Kom ons hoop maar daardie dag is nog ver in die toekoms.

5 Responses to “Sosiale netwerke kan gedagvaar word oor skadelike inhoud”

  1. vuurslag Says:

    Ek sien netnou ek het ‘n tikfout gemaak toe ek geskryf het oor die moontlike gebruikersgetalle van Twitter. Dit moet eintlik wees tussen 100 en 200 miljoen gebruikers.

    Like

  2. bierpens Says:

    Sake teen Google en Youtube is al getoets en gewen … Pens het alreeds daai een raak geblog … Dis hoekom die hekke op die plaas so styf toe gesluit is. As iemand comment en ‘n ander persoon hou nie daarvan nie is jy verantwoordlik Vuurslag … So by Die Plaas werk dit so … as iemand by my comment wil ek weet ek werk met ‘n traceable email … ek gaan nie vir die gelag betaal omdat daar ‘n klompie Afrikaners is wat rant en rave soos ‘n klomp Hoërskool kindertjies wat laas week zol ontdek het nie … by my Blog is ‘n komentator net welkom as ek sy email kan toets en dit werk … die alternatief is die modderboksie … mense kan maar deel word van Askimet se ham verslag … ou Pensie worry nie veel nie. Ek dink ek gaan sommer nog ‘n entry doen hier oor ..

    Like


  3. […] Geskryf In opvolg op my komentaar op Vuurslag se Blog […]

    Like

  4. vuurslag Says:

    Hallo Bierpens. Ek verstaan daai een nogal goed en ook die redes hoekom jy die sekuriteit op jou blogs moes opskerp. Ons het verlede jaar gesien watter nonsens kan gebeur as die spotters en bakleiers eers jou blog betree met hulle vals emails. Ai ek verlang na die dae toe ons nog ‘n lekker klompie was wat in die hoenderhok gekuier het. Maar nou ja, toe moes hierdie nare karakters dit kom bederf.

    Like

  5. vuurslag Says:

    Baie dankie vir jou inskrywing op die Plaas oor die internetreg. Ek het dit baie geniet.

    Like


Comments are closed.

%d bloggers like this: