Dis moeilik om ‘n reus te wurg

September 30, 2009

Dit het onlangs op die lappe gekom dat die bekende Switserse suiwelverwerkingsmaatskappy Nestlé groot hoeveelhede melk aangekoop het vanaf ‘n suiwelplaas wat nou aan Grace Mugabe, Vrou van president Robert Mugabe van Zimbabwe behoort. Hierdie betrokke plaas is een van vele wat deur die regering van Zimbabwe onteien is. Dit het my nogal verbaas dat daardie plaas so produktief kon bly terwyl baie van die ander plase wat ook so afgevat is lê en vergaan. Soos verwag kon word, het mense baie emosioneel daarop gereageer. Kallie Kriel van die burgerregtegroep Afriforum het selfs so ver gegaan om na hierdie melk as bloedmelk te verwys, Dit is afgelei van die term bloeddiamante wat verwys na diamante wat onwettig uit oorlogsones aangekoop word en waarvan die inkomste gebruik word om die oorlog te finansier.
Daar is heelwat mense wat daarop aandring dat ‘n boikot teen Nestlé ingestel moet word. Die skrywer van die blog ab imo Pector wil ook in sy persoonlike hoedanigheid hulle boikot deur nie hulle produkte op die winkelrak te koop nie. Hy wys egter daarop dat dit ‘n moeielike oefening gaan wees omdat Nestlé nie net melkprodukte en sjokolades verkoop nie. Hulle het verskeie bekende voedselprodukte se handelsname in hulle stal, onder andere kitskoffie, kitspasta en souse. Hulle sal natuurlik op internasionale gebied ook net so ‘n diverse groep voedselprodukte in hulle stal hê. Mense is al so gewoond aan hierdie produkte dat meeste dit nie sommer sal los nie. Op Ab imo Pector word die vraag ook gevra of die groot supermarkgroepe Nestlé se produkte van die rakke sal verwyder. Ek twyfel. Die enigste boikot wat sal werk is ‘n internasionale boidkot van alle suiwelprodukte sowel as nie-suiwelprodukte wat deur Nestlé vervaardig of bemark word. Ek wonder of Afriforum se internasionale boikotveldtog enige vrugte sal afwerp.

%d bloggers like this: