Burgerlike onrus

Julie 23, 2009

Ons land word vir die afgelope paar weke deur gewelddadige betogings geteister. Meeste hiervan is as gevolg van swak dienslewering deur plaaslike owerhede. Verskeie geboue, onder andere huise van stadsraadslede, ‘n kliniek en selfs munisipale kantore is afgebrand. Sommige van hierdie betogings het selfs xenofobies geraak toe die betogers die winkels van buitelanders wat in die townships woon geplunder het. Laasgenoemde xenofobiese voorvalle het in Balfour en Leeudoringstad gebeur.
‘n mens kan nooit hierdie soort optrede regverdig nie. Dog glo ek dat hierdie soort voorvalle voorkom kon gewees het as ons munisipale owerhede net meer toeganklik was en daarop ingestel was om die inwoners van hulle dorpe te dien. Dis ‘n bekende feit dat baie gemeenskappe moet lei onder munisipaliteite wat nie noodsaaklike dienste soos water, sanitasie en elektrisiteit kan lewer of in stand hou nie. In sommige gevalle het dinge so erg hand-uit geruk dat belastingbetalersverenigings in sommige dorpe soos Sannieshoff hulle munisipale belasting terughou en in ‘n trustfonds inbetaal. Hulle het al van daardie geld gebruik om self noodsaaklike toerusting soos onder andere ‘n rioolpomp aan te koop.
Dis ‘n bekende feit dat dit baie moeilik is om die munisipaliteit te kontak as jy enige klagtes of probleme het. Meeste personeel daar antwoord eenvoudig net nie hulle telefone nie. DDog lees ons gereeld in die koerante hoedat munisipaliteite dikwels geld mors op onbenullige dinge. Een munisipaliteit het glo sy werkers bederf met sokkerkaartjies vir een van die konfederasiesbeker wedstryde asook ‘n geskenkpak vir elkeen wat saamgegaan het soontoe. Hulle verskoning was glo dat die werkers die munisipaliteit by die konfederasiesbeker sokkertoernooi moes gaan bemark.
Verskeie kenners, selfs binne ANC-geledere, het gewaarsku dat hierdie protesaksies in ‘n rewolusie kan ontaard wat vir ons land niks goeds inhou nie.

%d bloggers like this: