Taxistaking voorlopig afgestel

April 20, 2009

Na vandag se vergadering tussen die taxigroepe, Jacob Zuma en die regering is die taxistaking voorlopig afgestel. Ou Jacob Zuma, die ou snoeshaan wat presies weet hoe om sy gehore te vertel wat hulle wil hoor, het aan die verteenwoordigers van die taxigroepe vertel dat ‘n plan gemaak moet word om die snelbusse en taxi’s te akkomodeer. Hy het ook ‘n voorstel gemaak dat die Departement van Vervoer eers die werk aan die snelbusprojek moet staak totdat daar onderaandelings plaasgevind het met die nuwe administrasie wat na die verkiesing sal oorneem. Almal wat al die woeste verkeer van Pretoria en Johannesburg aangedurf het, sal met my saamstem dat ons ‘n meer doeltreffende openbare vervoerstelsel nodig het wat met die ontwikkelde lande s’n kan meeding. As die verkeer in ons groot stede op ‘n normale dag alreeds so erg is, hoeveel te meer gaan dit nie wees as ons volgende jaar die sokkertoernooi aanbied nie? Aan die ander kant het ons ook al geleer dat die taxibedryf ‘n mag op hulle eie is. Niemand, selfs nie eers die regering, sal dit waag om hulle gesag uit te daag nie. Die nuwe administrasie wat na die verkiesing aan bewind gaan kom, het verseker ‘n moeilike taak voor hulle om ‘n oplossing vir hierdie vraagstuk te kry. Die kanse op mislukking is groot, en indien wel, sit ons met groot probleme. Kom ons hoop vir die beste.

%d bloggers like this: