Ek het dit so pos reggekry om WordPress vir Blackberry op my Blackberry slimfoon te aktiveer deur middel van die nuwe Blackberry skermleser toepassing wat in Mei 2012 deur Research In Motion bekendgestel is. So ver is die nuwe skermleser met gemengde welslae deur die gesiggestremde gemeenskap ontvang. Een van die grootste probleme met die skermleser is dat dit dikwels die foon laat vries. Dan moet mens maar weer die foontjie van voor af aan die gang kry deur middel van ‘n soft reset of deur due battery te verwyder en dit weer terug te plaas. Maar as die skermleser we’ll werk dan werk dit baie goed en is ek oor die algemeen tevrede met sy werkberrigting. Anders as sommige ander skermlesers praat die nuwe Blackberry Screenreader met so ‘n stekato vrouestem wat ‘n tydjie vat om aan gewoond te raak. Gelukkig gee dit jou toegang tot meeste ban jou belangrike toepassimgs soos die telefoon, kontakte, e-pos, sosiale netwerke en sommige webblaaie kan ook deur middel van die webblaaier op jou Blackberry gelees word. Verder werk die skermleser ook goed saam met sommige kitsboodskaptoepassings soos Whatsapp en kan potensieel ook met Mxit werk. Ek glo hierdie nuwe Blackberry was beslis ‘n goeie belegging.

Ek het al by verskeie geleenthede probeer om rekening by internetdienste en sosiale netwerke te open. As deel van jou aansoekvorm kry jy dan ook ‘n sogenaamde captcha wat jy moet invul. ‘n Captcha is ‘n grafiese verifikasiekode wat mens moet invul omte bewys dat jy wel ‘n menslike aansoeker is en nie ‘n outomatiese rekenaarprogram wat gemorspos oor die netwerk gaan versprei nie. Vir diegene van ons wat nie die prentjiekode kan sien nie, word daar heel dikwels ‘n oudio-weergawe van die captcha beskikbaar gestel.

die probleem met sommige van hierdie captchas is dat jy ‘n verskeidenheid van woorde gegee word om te luister terwyl jy slegs twee of meer daarvan moet invul. Dit behoef geen genie om te besef dat so ‘n stelsel uiters verwarrend is nie.

Waarom verskaf hierdie diensverskaffers nie eerder slegs die kodewoorde wat mens moet invul nie en los al die ander tierlantyntjies uit. Dit sal beslis die lewe makliker maak vir die betrokke internetmaatskappye en sosiale netwerke sowel as nuwe aansoekers wat graag van hul dienste wil gebruik maak maar nie oor al die tegniese vaardighede beskik nie. Verder sal dit ons as gesiggestremdes ook help om volle beheer te hê oor ons internetrekeninge en wagwoorde en nie afhanklik te wees van andere wat ons met sulke aansoeke moet help en dalk op onbehoorlike wyse toegang tot ons internetrekeninge kan kry nie.

Gestremdes En Joernalistiek

Januarie 21, 2012

Dit is die droom van byna alle mense met gestremdhede om eendag die ope arbeidsmark te kan betree en ook in ‘n gewone werksplek saam met gewone kolegas ‘n normale beroep te kan beoefen.
Die laaste tyd het ek self begin navorsing doen oor gestremdes in die interessante wêreld van joernalistiek. Ek is self tans besig om ‘n kursus in gemeenskapsjoernalistiek te doen en hoop om eendag vir my ‘n nuwe loopbaan daarmee te begin. Dit is vandag nie meer ongewoon vir werkende mense om weer verder te studeer waar moontlik as deel van hertoerusting, oftewel “retooling” vir ‘n nuwe beroep nie.
Tydens my vlugtige navorsing het ek afgekom op interessante inligting wat wel daarop dui dat dit wel moontlik is vir my as gestremde persoon om so ‘n loopbaan te volg met moontlike aanpassings. Ek het onder andere op ou koerantartikels in die Beeld en Burger afgekom van Bonita Blankenberg, ‘n gesiggestremde dame wat haar kursus in joernalistiek by die Kaapse Skiereiland suksesvol voltooi het. So ver ek kon vasstel werk sy nou in die kommunikasiebedryf.
Dan was daar ook na haar ‘n ander liggaamlik gestremde dame van Bonte Heuwel, Ellen Dreyer, wat ook inspirasie geput het uit Bonita se sukses en toe self ook joernalistiek as studierigting gevolg het. Ek is nuuskierig om te weet hoe die meetsnoere vir haar geval het en of daar toe ‘n werksgeleentheid vir haar oopgegaan het.
In 2004 het ‘n sakejoernalis van die Laevelder, Buks Viljoen, ‘n toekenning van Beeld gewen. Vandag werk hy as joernalis by Beeld.

Ek weet self nog nie hoe dinge vir my in die toekoms gaan verloop nie en of ek wel ook suksesvol gaan wees in my spesifieke rigting nie. Daar is heelwat uitdagings wat vir my voorlê. Ek kan wel goeie artikels skryf, maar kan as gevolg van my gesiggestremdheid nie foto’s neem nie. Ek het al ‘n paar skote met ‘n selfoonkamera probeer, natuurlik met skreeusnaakse resultate. Gemeenskapskoerante het as ‘n reël nie baie fondse tot hulle beskikking nie en moet dus noodgedwonge meerdoelige personeel aanstel, byvoorbeeld verslaggewers wat ewe bedrewe is met die pen en die kamera. Verder is vervoer ook ‘n uitdaging omdat ek nie self kan bestuur nie.

Verder is tegnologie vir ons ‘n tweesnydende swaard. Dit maak vir ons nuwe moontlikhede oop met rekenaars met sintetiese spraak en internet wat dit vir ons moontlik maak om die jongste inligting op die internet te kry sonder dat die inligtingsverskaffer of ‘n tussenganger eers vir ons die inligting moet aanpas deur dit in braille te druk of
op kasset of enige ander klankformaat op te neem. Maar soms word daar ook in die nuwe tegnologiese era van personeel verwag om meerdoelig te wees. Hulle moet byvoorbeeld artikels kan skryf, die foto’s in die artikel kan invoeg en die bladuitleg op die rekenaar doen. Juis daar kan tegnologie ons lelik pootjie en ons sonder werksgeleenthede laat.

Laat ons egter ten spyte van al hierdie bogenoemde omstandighede steeds hoopvol bly dat hierdie dalk die begin van ‘n nuwe avontuur kan wees.

Dis ‘n algemene verskynsel wanneer jy aansoek doen vir ‘n rekening vir ‘n webgebaseerde kommunikasieplatform soos e-pos of sosiale netwerke. Jy moet ‘n prentjiekode intik wat op jou skerm verskyn. Dit word gedoen om te keer dat ouens wat graag gemorspos op die internet rondstuur nie deur middel van outomatiese programatuur rekeninge op hierdie diensverskaffers se platform oopmaak nie. Die aansoekvorm moet deur ‘n menslike gebruiker self ingevul word wat die prentjiekode moet kan sien wat op die skerm verskyn.
Die groot probleem met hierdie grafiese verifikasiekodes, ook bekend as Captchas, is dat baie mense wat sukkel met sigprobleme en veral diegene wat van spraakprogramme gebruik maak nie hierdie prentjiekodes kan lees nie. Sommige van hierdie diensverskaffers het wel ‘n soort oudio captcha vir sulke mense, maar die woorde wat jy moet intik word dikwels in ‘n hele sin versteek. Hoe op aarde moet ons raai watter is die regte kodewoorde? Julle moet eerder daaraan dink om die kodewoorde net so in die klankgreep te sit en dit nie tussen ander woorde te versteek nie.
Ek wonder of daar al mense daar buite is wat al ‘n oplossing vir hierdie soort probleem gekry het? Kan die diensverskaffers nie eerder daaraan dink om eerder vir nuwe aansoekers ‘n e-pos te stuur met ‘n bevestigingskakel nie? WordPress.com doen dit aalreeds met hulle nuwe aansoekers wat ‘n rekening en ‘n blog wil oopmaak. Ek is dankbaar dat hulle nie captchas van my gevra het nie, anders sou hierdie blog nie moontlik gewees het nie.
Hopelik sal die dag gou kom dat ons as gesiggestremdes in die privaatheid van ons eie kamer ons rekeninge vir Facebook, Twitter, Gmail en ander dienste self kan oopmaak in plaas daarvan om iemand te vra om ons te help daarmee en so ‘n persoon toe te vertrou met jou wagwoord, en ander persoonlike besonderhede.

Vandag word daar weer groot gewag gemaak van Internasionale Dag vir Gestremdes. Daar is vandag al ‘n paar insetsels hieroor op die radio uitgesaai. Die vraag wat by my opkom op ‘n dag soos vandag is: het die lewens van gestremde persone verbeter oor die laaste klompie jare?
Dit is wel ‘n feit dat ons op tegnologiese gebied goeie vooruitgang gehad het. Vervaardigers van hulpmiddels en organisasies wat die belange van gestremdes verteenwoordig het ook in die laaste paar jaar met planne vorendag gekom om hierdie produkte meer toeganklik en bekostigbaar te maak.
Verder het ons regering ook allerhande mooi beleidsrigtings en wetgewing op papier oor werksgeleenthede vir gestremdes. Maar soos gewoonlik kan dit nie regtig prakties toegepas word nie weens verskeie probleme in die werkplek self. Werkgewers is maar baie skepties om mense met gestremdhede in diens te neem al beskik hulle oor die nodige kwalifikasies. Verder is daar die probleem oor hoe om jou hulpmiddels en jou werkplek en/of betrekking met mekaar te versoen. Hierdie is veral ‘n groot probleem as dit by rekenaartoerusting en spraakprogramatuur vir gesiggestremdes kom. Ek weet van mense wat al hulle werk verloor het omdat hulle spraakprogramatuur en die werkgewer se bedryfstelsels nie versoenbaar met mekaar was nie. Werksgeleenthede vir gestremdes word ook al hoe skaarser omdat werkgewers vereis dat veral kantoorpersoneel al meer veeldoelig word. Daar is byvoorbeeld minder poste vir skakelbordoperateurs beskikbaar as vroeër jare omdat veeldoelige persoonlike assistente die meeste van die kantooraktiwiteite nou self moet behartig en omdat taksentralestelsels wat skakelboerde aandryf al hoe meer outomaties word.
Lesers en deelnemers is welkom om tot hierdie lys van uitdagings toe te voeg en ook met oplossings vorendag te kom.
Om op te som kan gesê word dat gemengde welslae behaal is om die lewens van gestremde persone te verbeter.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 45 other followers

%d bloggers like this: