Die gawe mense by WordPress.com het ons gister weer aangenaam verras toe hulle nuwe sagteware op WordPress.com geaktiveer het wat outomaties kan opmerk as jy metm jou selfoon ‘n wordpress.com blog besoek. Dan sal daar ‘n lekker klein en gemaklike weergawe van die blog op jou foon se webleser laai.
Hierdie funksie was al ‘n geruime tyd beskikbaar vir diegene wat WordPress se sagteware op selfgehuisveste “self-hosted” blogs gebruik. Bosparra.com was een van die bekende Afrikaanse blogs wat hierdie funksie vir ‘n lang tydjie al gebruik. Ons bloggers op wordpress.com se blogs was meestal ook bersoenbaar met selfone se weblesers, maar ons het nie toegang gehad tot die miniwerfsagteware wat die self-hosted blogs se eienaars kon gebruik nie. Gister het dit verander. Al die wordpress.com blogs is nou outomaties met hierdie miniwerfsagteware toegerus. Die blogs kan nou baie vinniger laai op jou foon. Dit is nou ook baie goedkoper om blogs op jou foon te lees.
Gelukkig is daar op hierdie miniwerf ook die keuse om nog steeds die volle webwerf op jou foon te besigtig soos voorheen.
My hartlike dank aan die span van WordPress.

Bloggers en kopiereg

Oktober 8, 2009

Op 5 Oktober 2009 plaas die redaksie van die bekende Afrikaanse blog Bosparra, te besigtig by http://www.bosparra.com, ‘n prokureursbrief wat namens Media24 aan hulle gestuur is op hulle webwerf. In hierdie brief word hulle geskrobeer omdat hulle glo artikels van Media24 op hulle webwerf gepubliseer het. Sommige artikels is ook vertaal. In die brief word ook skakels aangegee van inskrywings op Bosparra wat die redaksie onmiddellik moet verwyder. Verder word hulle versoek om nie weer materiaal wat deur Media24 geproduseer is op hulle blog te publiseer nie.
Hierdie is voorwaar ‘n interessante verwikkeling vir baie bloggers wat koerantartikels vanaf die koerant se webwerwe gekopieer en dit dan op hulle eie blogs gepubliseer het vir kommentaar deur die blogeienaar en sy/haar deelnemers. Platkuif, Bosparra se hoofredakteur, het in sy verweer aangevoer dat Bosparra ter alle tye erkenning gegee het aan die bron van die artikels wat hulle gepubliseer het deurdat hulle die snelskakel na die oorspronklike artikel op hulle webwerf geplaas het.
Kom ons hoop dat daar spoedig ‘n skikking bereik kan word tussen Bosparra en Media24 rondom hierdie aangeleentheid. So nie, kan hierdie twis verreikende nagevolge vir ander bloggers ook inhou.

Bloggers en boggers

Junie 24, 2009

Hoekom is sommige afrikaanse bloggers so geniepsig met mekaar? Ek kom gister op ‘n blog af hier op http://af.wordpress.com/ met die naam Fan van Leon Gatkramp, ‘n verwysing na die blogger Leon Croukamp http://leoncroukamp.wordpress.com/ wie nou die onderwerp is van hierdie spotters se blog. Hierdie geniepsige spotblog het verskyn as een van die top blogs van die dag op af.wordpress.com, ‘n webwerf van wordpress.com wat spesifiek vir ons afrikaanse bloggers daargestel is. Dit beteken dat heelwat mense gereeld hierdie nare blog lees.
Hierdie blog is nie die enigste wat die spot dryf met Croukamp en die bloggers van http://www.bosparra.com/ nie.
Ek stem ook nie saam met die manier hoe veral die bosparras te kere gaan nie, maar ek maak dit tog nie my lewenstaak om al die blapse en skandes van die bosparras op die internet te ontbloot nie. Ek los hulle doodeenvoudig uit en lees nie hulle blogs nie. Watter pret put die eienaars van hierdie spotblogs en diegene wat by hulle kommentaar lewer uit hierdie speletjie? Julle ouens kan mos julle blogtalente gebruik vir veel beter dinge. Los vir Leon Croukamp en die bosparras uit sodat hulle self kan voortploeter.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 45 other followers

%d bloggers like this: