Dis soms so onregverdig

Hier is sommer net ‘n paar filosofiese vrae wat my al laat wonder het.
Hoekom is dit so dat goeie vrouens soms slegte mans trou wat hulle nie waardeer nie en erge trauma in hulle lewens veroorsaak as gevolg van gesinsgeweld of emosionele mishandeling? Dit gebeur natuurlik ook dat goeie mans met slegte vroue trou wat ook hulle siele erg vergal. Indien sulke persone daarin slaag om uit sulke ongesonde verhoudings te kom kruip hulle so in hulle dop dat dit amper onmoontlik is vir iemand wat wel sou omgee om hulle te bereik.
Tweedens wonder ek hoekom dit soms gebeur dat ouers wat nie goed na hulle kinders kan omsien nie en hulle blootstel aan mishandeling of verwaarlosing so baie kinders kan hê terwyl diegene wat lief is vir kinders soms kinderloos bly?
Hierdie is sommer net ‘n paar dinge wat my soms laat stilstaan en wonder.

Lewer Kommentaar

Die Afrikaanse blogs groei vinnig

Ek kyk gereeld op die Afrikaanse afdeling van WordPress, te besigtig by af.wordpress.com na die volledige lys van top blogs van die dag. Dis vir my ‘n riem om die hart om te sien hoeveel nuwe bloggers en interessante nuwe blogs daar so einde Desember tot vroeg in Januarie bygekom het. Hier verwys ek veral na blogs soos Sommer alles blog, Jlmriekert, Stoop se Stoep, Middernag, Karlien Du Preez, Geeskomitee ensovoorts. Sommige bloggers het ook van hulle eie vriende en aanhangers so ver gekry om by hulle blog te kom inloer en kommentaar te lewer. Hartlik welkom aan julle almal hier op WordPress se Afrikaanse afdeling. Mag julle groot vreugde uit julle blogs put en sommer baie aanhangers en blogvriende bykry.

Comments (3)

Wat is die doel van vyfdagkrieket

Ek moet erken ek verstaan nie altyd die doel van vyfdagkrieket nie. Vir vyf dae staan die spelers in die warm son en swoeg en sweet net om op die ou einde ‘n onbesliste uitslag te kry. Dit het nou al in die laaste twee toetse gebeur tussen Suid-Afrika en Engeland. SA kan nou nie meer die reeks wen nie maar slegs gelyk breek as hulle die volgende toets wen. Engeland kan nog steeds die reeks wen al eindig die volgende toets onbeslis. Wat is dan die doel van vyfdagkrieket? Dalk moet hulle eerder eendagwedstryde en 20-20 wedstryde speel waar die uitslag seker is.

Comments (4)

Komkommertyd is verby

Al die vakansiejolyt van die afgelope feesseisoen is nou so te sê op ‘n einde. Diegene van julle wat nog ‘n ekstra week vakansie kan inpas moet dit baie geniet. Daar is ook diegene van ons vir wie dit weer tyd is om weer terug te keer werk toe met sy gewone daaglikse pligte wat op ons wag. Diegene wat kinders op skool het moet ook sorg dat hulle al hulle skoolbenodigdhede het. Skoolklere en skryfbehoeftes moet aangekoop word en daar moet ook gesorg word dat hulle hare mooi kort gesny word. Ek sien op my almanak die skole begin reeds op 13 Januarie.
Verder begin die radio- en televisiedienste weer met hulle normale programskedules. Die rustige vakansieprogramme is nou op ‘n einde. Die nuus gaan nou weer begin spoed optel en die politici gaan weer hulle praatjies begin praat. Asseblief, dames en here, doen tog die moeite om vanjaar meer verantwoordelike uitsprake te maak.
Ek wens julle weereens ‘n voorspoedige nuwe jaar toe. Mag dit julle nie te lank vat om weer by die vervelende daaglikse roetine in te skakel nie.

Lewer Kommentaar

Die oujaar lê op sy rug

Op hierdie oujaarsdag is dit mos maar almal se gewoonte om terug te kyk na die hoogte- en laagtepunte van die jaar. Hier is ‘n paar enkeles wat vir my uitgestaan het.
Vanjaar was ‘n verkiesingsjaar en Jacob Zuma en die ANC was soos gewoonlik die gunstelinge om hierdie verkiesing te wen omdat die ANC so ‘n geweldige meerderheid steun het. Daar was egter ‘n groot probleem omdat die Nasionale Vervolgingsgesag aanklagte van korrupsie teen Zuma ondersoek het. Teen die einde van Maart het hulle toe op hoogs omstrede wyse besluit om nie voort te gaan met die vervolging nie. Jacob Zuma se pad na die presidensie was nou oop. Op 22 April is die verkiesing gehou wat aan Zuma die presidentskap van Suid-Afrika besorg het.
In dieselfde tyd was daar ook ‘n politieke opskudding toe ‘n nuwe party, Congress of the People, op die toneel verskyn het. Hierdie nuwe party is meestal saamgestel uit ‘n groep hoëprofiel politici wat die ANC verlaat het. Alhoewel die ANC dit nooit sal erken nie was hulle maar baie skrikkerig vir hierdie party. Daar was heelwat intimidasie teenoor mense wat COPE se saamtrekke bygewoon het. Verder het die ANC ook ‘n sogenaamde “war room” begin waar hulle COPE se leierskap direk kon teiken deur ou geraamtes uit hulle ANC-kaste te voorskyn te bring, d.w.s. al die dinge wat hulle na bewering verkeerd sou gedoen het toe hulle nog by die ANC was. Op die ou end het COPE toe die derde meeste stemme gekry in die verkiesing.
Op 9 Mei word Jacob Zuma as president ingehuldig en op 10 Mei kondig hy sy nuwe kabinet aan. Die kabinet is vergroot en daar is ook veranderinge an portefeuljes aangebring. Selfs iemand soos Pieter Mulder van die Vryheidsfront Plus het ‘n pos gekry as adjunk-minister van landbou, bosbou en visserye. Dit het groot ongelukkigheid binne behoudende Afrikanergeledere veroorsaak omdat baie mense gevoel het dat Mulder nie meer sy rol as opposisieleier effektief sal kan vervul nie.
Die nuwe H1n1 griepvirus het ook vanjaar wêreldwyd paniek veroorsaak en tot die dood van meer as twaalfduisend mense gelei. In vergelyking met ander lande het Suid-afrika relatief lig daarvan afgekom.
Die bekende popster Michael Jackson het op 25 Junie skielikgesterf aan hartversaking. Op die ou end kom dit toe uit dat sy dood te wyte is aan ‘n oordosis medikasie wat sy dokter voorgeskryf het.
Die Springbokke het vanjaar die Drienasiesbeker gewen. Die Bloubulle het die Super 14 reeks sowel as vanjaar se Currybeker gewen.
Verder was daar ‘n paar stakings, betogings en despute wat my nogal kriewelrig gehad het. Daar was die staking van die brandstoflorriedrywers wat vulstasie se pompe op party dorpe laat opdroog het. Daar was gewelddadige betogings oor swak dienslewering deur plaaslike owerhede wat baie dorpe in rep en roer gehad het. Daar was die geskil tussen die taxi-unies en die regering oor die beplande nuwe snelbusstelsel in groot stede. Verder was daar ook ‘n staking by die Sauk wat uitsendings vir ‘n dag of wat negatief geraak het.
Hierdie was maar ‘n paar punte wat vir my hierdie jaar uitgestaan het.
Ek wil graag van die geleentheid gebruik maak om al die lesers en deelnemers ‘n voorspoedige nuwe jaar toe te wens. Die nuwe jaar gaan beslis ‘n onsekere jaar wees. Ons is nog steeds vasgevang in die gevolge van ‘n wêreldwye resessie en ons weet nog nie of ons in die komende jaar genoegsaam sal kan herstel nie. Evkom beplan om sy tariewe op te stoot en ons sal maar moet sien hoe dit ons ekonomiese herstel en die skep en/of verlies van werksgeleenthede gaan raak. Verder moet ons ook nog sien of Suid-Afrika ‘n sukses van die Wêreldbeker Sokkertoernooi gaan maak. Maar mag dit tussen alles deur nog steeds vir julle voorspoedig wees.

Comments (2)

Older Posts »